Bedryfsleierprys – Johannes Fourie
Afr
Eng
Johannes Fourie van Lofdal Fourie boerdery in die Noord-Kaap ontvang die O.S.H Reinecke-bedryfsleierprys van die sagtevrugtebedryf.
Fourie was ‘n raadslid van die SA Droëvrugtekoöperasie (SAD) en die Droëvrugteraad tot na die ontbinding in 1996. Hy het vir ‘n termyn as direkteur van Pioneer Foods uitgedien en was direkteur en voorsitter van Droëvrugte Tegniese Dienste. Hy het die rol as voorsitter van Raisins SA asook die Droëvrugtebedryfstrust bekleë en was vir twee termyne die voorsitter van die Internasionale Rosynevereniging.
Die plase Sanddraai en Opwag is geleë buite Groblershoop en daar word onder meer met droogdruiwe, pekanneute en vee geboer. Die betrokkenheid van die familie, wat dieselfde waardes deel, maak hierdie boerdery uniek en suksesvol. Deur respek te betoon aan die Skepper, hul mense, plante, diere en plaastoerusting bou hulle voort. Fourie beskou familieboerdery as die beste manier om kennis van een geslag na die volgende oor te dra en glo dat dít en waardes die belangrikste boustene vir sukses is.
Die rosyntjiebedryf is redelik arbeidsintensief en daarom beskou hul mense as baie belangrik. Die fokus is om in mense te belê deur middel van werkskepping en opleiding. “Dit gee my hoop om te sien hoe mense groei en ontwikkel, en om ‘n blok wingerd met passie te plant en te sien hoe dit ontwikkel en produseer”, sê Johannes in ‘n artikel van Landbou Burger.
NJ Hand, een van ons besproeiingspesialiste, is by Lofdal betrokke en werk saam met Fourie en sy familie. “Oom Johannes is ’n opregte boer wat in harmonie met Moeder Natuur werk. Sy eerlikheid en omgee vir sy werkers se welstand is merkwaardig,” sê hy.
Jare se toewyding en deurnis lei beslis na sukses. Baie geluk oom Johannes, met hierdie welverdiende eer! Ons by Bergrivier Besproeiing deel dieselfde familiewaardes en sien uit na nog baie jare se dienslewering aan Lofdal Fourie-boerdery.
Lees meer: