Tafeldruif Blokkompetisie 2022
Afr
Eng
Tydens die jaarlikse Bergrivier-tafeldruifprodusentevereniging se blokkompetisie is daar weer spogblokke tentoongestel.
Die doel van hierdie kompetisie is om erkenning te gee aan boere en hul produksiespanne. Die kompetisie word hoofsaaklik deur borge moontlik gemaak. Bergrivier Besproeiing was die hoofborg van die kompetisie met die ondersteuning van ons betroubare verskaffers Netafim, Agriplas en Macsteel Fluid Control.
Die deelnemers was kort op mekaar se hakke met min verskil tussen hul persentasies. Dit dui op die hoë gehalte druiwe wat in hierdie streek geproduseer word. Die hoofkultivars wat beoordeel is, is sweet celebration, sweet globe en midnight beauty.
Die kompetisie bestaan hoofsaaklik uit twee kategorieë, naamlik produksieblokke en jong blokke.
Die aspekte wat by produksieblokke beoordeel word, sluit in langtermyndoelwitte, grondvoorbereiding, kultivarkeuse, grondprofiel, besproeiing, onkruid- en plaagbestuur, oesbeheer en algemene voorkoms. In die jong-blok-kategorie is daar gefokus op die grondvoorbereiding en die suksesvolle vestiging van die jong stokkies. Daar is ook gekyk na die kwaliteit van die materiaal wat gebruik is om die stokkie op die draad te kry.
Die hele span assistente word bepunt vir hulle kennis en blokbenadering. Daar is groot klem gelê op die belangrikheid van spanwerk.
Stephan Naudé, besturende direkteur van Bergrivier Besproeiing, het in sy toespraak genoem dat dit vir ons belangrik is om te kyk na die lopende koste, soos elektrisiteitverbruik, en dit so laag as moontlik te hou.
“Jy moet slimmer boer, dit is wat die verskil gaan maak of jou plaas op die langtermyn suksesvol gaan wees. Jy moet jou omring met die nuutste beproefte tegnologie en kennis en dit is waar ons die verskil kan inbring op plase.”
Deel van die produksieblokwenner se prys is ’n oorsese toer saam met die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati) se studiegroep na Bakersfield, Kalifornië.
Henk van der Westhuizen van Môrester is met sy sweet celebration-blok as die produksieblokwenner aangewys.
Henco Nienaber is die besproeiingspesialis wat by elkeen van hierdie plase betrokke is.
“Die organiese bestuur van die bogrond veroorsaak dat daar baie meer organismes teenwoordig is, wat bydra tot die effektiewe bestuur van water, dit is die sukses storie.” sê Nienaber.
PG Marais van Dasdrif het met die jong-blok-titel weggestap vir sweet celebration.
“Hier het ons gesien dat ons net so effektief met drupbesproeiing werk soos met mikro-besproeiing. Drupbesproeiing vereis egter ‘n meer ‘hands-on’ benadering soos die gereelde maak van profielgate, vogmoniteering en die analisering van weerdata,” sê Nienaber.
Baie geluk, ons by Bergrivier Besproeiing is trots om met julle geassosieer te word!